CCN Verslagspan
Weskaap:- Vandag 12 Mei 2025, begin die Mei/Junie Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens vir duisende leerders regoor die Wes-Kaap.
Meer as 37,000 kandidate sal hul plekke inneem – onder hulle is 25,615 jong mense wat hul matriekpunte wil verbeter of voltooi, en 11,609 volwasse kandidate wat hul drome herleef deur die Senior Sertifikaat-eksamen te skryf.
By 165 eksamensentrums word 54 verskillende vakke aangebied, met Wiskundige Geletterdheid wat die meeste inskrywings het. Dis meer as 16,500 kandidate. Die dag begin met Arabies as Tweede Addisionele Taal, en later volg Engels.
Bronagh Hammond van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê “alles is gereed, en ons moedig elke kandidaat aan om hul beste te gee.”
Aan elkeen van julle wat skryf: moenie jou waarde onderskat nie. Jy het weer opgestaan, jy het besluit om ’n kans te vat op jouself, en dit verg moed. Of jy jonk is of ‘n volwassene, of jy jare moes wag of net jou punte wil verbeter, hierdie is jou tyd.
Onthou: ’n papier bepaal nie jou waardigheid nie, maar dit kan deure oopmaak na ’n nuwe begin. Hou aan glo, hou aan probeer. Die pad mag lank wees, maar elke tree vorentoe bring jou nader aan jou drome.
Sterkte aan al die kandidate, die toekoms wag.


