Hofsaak uitgestel vir borgtog
Berig – George April
Bellville:- Die vrou wat na bewering die nege dae oue baba Mogamat Imaad Shamar uit ‘n winkelsentrum in Bellville ontvoer het, het gister in die hof verskyn, met haar gesig versteek agter ‘n masker.
Ontvoerder Skuil agter Masker
Die beskuldigde, ‘n 37-jarige vrou van Tafelsig, word van ontvoering aangekla nadat die baba Maandag veilig by ‘n huis in Honolulu-straat, Mitchells Plain, gevind is. Sy bly in aanhouding totdat haar borgtogaansoek later dié maand aangehoor sal word.
Die baba se ma, Imaan, was emosioneel ná die hofverskyning. Sy het aan ‘n TV-verslaggewer gesê dat sy die vrou se gesig nie mooi kan onthou nie, maar sy sal haar stem nooit vergeet nie.
“Daardie stem – dit sal ek altyd onthou,” het die ma gesê.
Die saak het die land geskok nadat aan die lig gekom het dat die beskuldigde die jong ma glo oor maande heen “groom” het, en voorgegee het sy werk vir ‘n organisasie wat nuwe mammas bystaan met sorgpakkies, berading en werkswinkels. Volgens Veranique “Benji” Williams, stigter van die Faith and Hope Missing Persons Unit, het die beskuldigde die ma oor en oor uitgeneem vir middagete en haar vertroue gewen.
Slim Speurwerk en Gemeenskap Samewerking
Benji Williams het verder onthul hoe die verdagte vasgetrek is: “‘n Buurvrou het my Maandagaand gekontak. Sy het gesê daar bly ‘n vrou in haar straat wat nie swanger was nie, maar skielik ‘n baba by die huis het. Dit het onmiddellik alarms laat lui.”
Benji, self ‘n oud-polisielid, het saam met die polisie en misdaadintelligensie ‘n operasie beplan. Speurder-kaptein Wesley Lombard, bekend vir sy toewyding aan vermiste kindersake, het die ondersoek gelei.
Die huis is gemonitor, en toe die owerhede toeslaan, is die baba gevind, ongedeerd, geklee in die selfde haai-onderbaadjie wat die ma beskryf het.
‘N Emosionele Hereniging
Toe die baba teruggegee is aan sy ouers by die polisiekantoor, was daar trane van blydskap. Die pa het sy seun vir die eerste keer ontmoet en kon sy emosies nie terughou nie.
“Die oomblik toe die kombers oopgaan… dit het almal gebreek. Die ma het geweet dit is haar seun,” het Sandy Schuter-Flowers van die Strandfontein Gemeenskaps polisieforum gesê.
Die Verdagte se Verlede
Vriende van die beskuldigde het bevestig dat sy in ‘n moeilike situasie was. Daar word beweer sy het aan haar eks-man en sy familie voorgelieg oor ‘n swangerskap, moontlik as gevolg van ‘n onvervulde begeerte om ‘n ma te wees. Die egpaar is sedertdien geskei.
‘N Boodskap van Waarskuwing
Benji Williams waarsku ouers om waaksaam te wees en vreemdelinge nie maklik te vertrou nie. Sy doen ook ‘n beroep op die regering om meer ondersteuning en hulpbronne beskikbaar te stel vir jong mammas, sodat hulle nie in sulke situasies beland nie.
Die beskuldigde bly in aanhouding. Haar volgende hofverskyning vir ‘n borgtog aansoeg was uitgestel, intussen duur die ondersoek voort.
#SaamTeenMisdaad
