Gewone Inwoners Bly Weerloos
Mitchells Plain:- Die jongste voorval van gewapende bendegeweld het inwoners van Eastridge, Mitchells Plain, weer laat besef hoe kwesbaar hulle is.
In ’n gemeenskap waar koeëls enige oomblik kan fluit, ongeag wat die polisie aan die publiek meedeel.
Volgens die SAPD-woordvoerder, sersant Wesley Twigg, het ’n lewensgevaarlike skietery omstreeks 10:20 die oggend van 11 Augustus plaasgevind. “’n Toyota Tazz het in Katdoringstraat gery toe ’n VW Polo skielik verbyjaag en voor hulle tot stilstand kom. Onbekende gewapende aanvallers het uit die Polo geklim en verskeie skote op die voertuig en sy insittendes afgevuur,” het Twigg verduidelik.
Die bestuurder het paniekerig probeer wegkom deur agteruit te ry, maar die aanvallers het onophoudelik aangehou skiet. Die vier slagoffers, mans tussen 14 en 33 jaar oud, het soos deur ’n wonderwerk, geen noodlottige beserings opgedoen nie, maar is wel na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling. Die aanvallers het te voet gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie.
Volgens die polisie word die voorval as bendeverwant beskou en word daar ondersoek ingestel na vier aanklagte van poging tot moord.
Maar vir die inwoners is hierdie net nóg ’n insident in ’n lang lys van gewapende aanvalle wat daagliks plaasvind. “Soms gerapporteer, dikwels nie”
“Ons hoor elke dag skote, dit het deel van ons lewe geword. Dis nie reg dat ons kinders so grootword nie,” sê ’n plaaslike inwoner wat, uit vrees vir vergelding, verkies het om anoniem te bly.
In die lig van herhalende geweld vra gemeenskapsleiers dat daar nie net gereageer moet word ná voorvalle nie, maar dat ’n volhoubare veiligheidsplan geïmplementeer moet word. Hulle meen dat inwoners tussen die bendes en die misdaad vasgevang is, terwyl die owerhede voortgaan om beloftes te maak wat selde werklik sigbare verandering bring.
’n Roep tot aksie, die tyd vir stilbly is lankal verby. Elke dag vloei onskuldige bloed op die Kaapse Vlakte terwyl besluitnemers in kantore sit en nog komitees en planne bespreek. Die polisie doen wat hulle kan met beperkte hulpbronne, maar dit is nie genoeg nie. Ons kinders groei op tussen geweld en vrees, en die verantwoordelikheid om dit te stop lê nou by dié wat gesweer het om ons te beskerm.
Die regering, wetgewers en veiligheidsowerhede kan nie langer toekyk nie, die gemeenskap eis geregtigheid, beskerming en ’n toekoms sonder misdaadll.

