Na Jare se diens in dieselfde gebou
CCN Redakteur
Skok of verrassing, toe ‘n vriend Vrydag met twee kameras in sy hande by die biblioteek wil instap.
Vir jare gebruik ek dieselfde twee digitale kameras in presies dieselfde biblioteek om foto’s te neem van kinders, personeel of geleenthede. Ek is nog nooit toegang geweier by Langebaan, Velddrif, Malmesbury of enige ander biblioteek met ’n kamera nie. Ek het nie eens geweet so ’n reël bestaan nie.
Vrydag bring ’n vriend vir my die twee kameras wat hy namens my by iemand gaan haal het. By die biblioteek se ingang word hy gestop. Die sekuriteitsbeampte wys na ’n foto teen die muur en sê nee, kameras word nie toegelaat nie, nie eers as hulle by ontvangs gelos word nie. Die batterye was boonop dood; die goed het waarskynlik laas in 2023 gebruik geword.
Ek gebruik deesdae my selfoon vir alles. Volgens dieselfde logika behoort selfone dan seker ook verbied te word?
My vriend moes maar weer met die kameras omdraai. Ek het hulle in elk geval nie nodig gehad nie. Ek gebruik die kameras net vir aksiefoto’s op sportvelde, en dit was meer as ‘n jaar gelede.
Maar die storie word nog vreemder.
Dinsdagmiddag stap ek in Buitekantstraat op. Ek groet ’n paar manne wat op ’n stoep sit. Een van hulle sê hardop: “Manne, pas op wat julle sê, daai ou skryf nou-nou oor julle.”
Ek hoor dit gereeld. Mense sien my verbyloop en dink outomaties ek gaan hulle “uitverkoop” of “negatief” maak. Dit is nie kinderagtig nie, kinders maak nie eers sulke kinderagrige aanmerkings nie. Dit is volwasse mense, dikwels met grade agter hul name, wat steeds dink soos marionette.
Ek bestuur my eie aanlyn-platform en bereik byna elke maand meer as 20 000 lesers. Dit laat my wonder: is daar regtig soveel mense wat met hul agterente dink?
Ek glo steeds: ’n goeie gesprek moet interessant en stimulerend wees. As joernalis het ek oor die jare geleer om nooit iemand op voorkoms te beoordeel nie. Telefonies was ek altyd “Mnr. April”. Wanneer ek dan in lewende lywe opdaag, kry ek dikwels die reaksie: “Is jy George April?” asof hulle nie kan glo die man met die notaboekie en die glimlag is dieselfde persoon nie.
“Never judge a person by appearance”.
Ek het as groentjie vinnig begin uitstaan as vryskut verslaggewer, juis omdat mense my judge, en dus baie makliker inligting verskaf.
Dit geld nog steeds, daarom is die onderskatting van my as persoon nie vreemd vir my nie.

