‘N stap na groter dissipline en nasionale trots?
CCN Verslaggewer – George C. April
Kaapstad:- Die idee van verpligte militêre opleiding vir Suid-Afrika se jeug is weer onder die kollig, nadat VF Plus-leier en Minister Pieter Groenewald die voorstel op sosiale media geplaas het.
Volgens Groenewald kan ‘n verpligte twee-jaar militêre opleiding nasionale trots, dissipline en ‘n liefde vir die land by jong burgers kweek. Die voorstel het reeds heelwat bespreking uitgelok.
Terwyl sommige kritici bekommerd is oor jongmense se vryheid en outonomie, glo voorstanders dat so ‘n program presies is wat die jeug vandag nodig het, in ‘n tyd van hoë werkloosheid, sosiale uitdagings en ‘n behoefte aan struktuur.
As stigter van West Coast Sports Solutions NPO in Hopefield, en as iemand wat jare lank by jeugontwikkeling betrokke is, ondersteun ek die gees van die voorstel ten volle.
“Met my betrokkenheid by jeugontwikkeling het ek al self gesien hoe gestruktureerde programme, deur sport, afrigting, mentorskap en spanwerk – dissipline, selfvertroue, nasionale trots en ‘n sterk werksetiek by ons jongmense op die Weskus kweek,”
“Baie van hulle kom uit uitdagende agtergronde en floreer wanneer hulle duidelike doelwitte, verantwoordelikheid en positiewe rolmodelle kry. ’N Goed ontwerpte nasionale diensprogram, wat elemente van vaardigheids opleiding, fisiese ontwikkeling en gemeenskapsdiens insluit, kan hierdie voordele na duisende meer jongmense uitbrei.
Dit gaan nie daaroor om iemand teen hul waardes te dwing nie, maar om die volgende generasie toe te rus met die gereedskap, veerkragtigheid en liefde vir ons land wat hulle nodig het om te slaag. Ons staan gereed om saam te werk aan inisiatiewe wat ons jeug deur positiewe, inklusiewe ontwikkeling ophef.”
Ek gesels gereeld met veral tieners wat ek sien dwelms gebruik, onmanierlik is of sonder respek vir volwassenes op die strate dwaal. Behalwe dat hulle nie genoeg rolmodelle het nie, is verveling een van hul grootste probleme.
As jongmense deur ’n program soos nasionale diens in die weermag kan gaan, sal hulle daardie trots terugbring in hul gemeenskappe. Ons het al baie positiewe stories gehoor van weermaglede in ander lande wat deur sulke programme verander en opgebou is.
Ek persoonlik beklemtoon dat so ’n program veel meer as net inkomste en dissipline kan lewer. Dit kan lei tot lewensvaardighede, selfstandigheid, respek vir ander, en ’n diepgewortelde gevoel van behoort aan Suid-Afrika.
West Coast Sports Solutions NPO fokus reeds daarop om jongmense deur sport en gemeenskaps programme te ontwikkel. Ons sien daagliks die positiewe impak van struktuur en geleenthede op die jeug in die Weskus-distrik.
Ek dink die voorstel deur Minister Groenewald oor verpligte nasionale diens moet meer ondersteuning kry, veral van gemeenskapsleiers. Daar moet ’n sterk begeerte wees om jongmense beter voor te berei vir die toekoms. Met die regte ontwerp en inklusiewe benadering kan so ’n inisiatief ’n werklike verskil maak in die lewens van duisende jong Suid-Afrikaners.
Cape Coast News sal die gesprek volg en verwelkom reaksies van lesers en ander gemeenskapsleiers, deur hul meetings te plaas deur ons aanlyn “Contact Us” blad.


