Dwelms ter Waarde van R900 000 en Onwettige Vuurwapens Gekonfiskeer
CCN verslaggewer – George April
Kaapstad:- Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het hierdie week ‘n reeks suksesvolle operasies in die Kaapse Vlakte uitgevoer, wat gelei het tot die beslaglegging van dwelms ter waarde van sowat R900 000, verskeie onwettige vuurwapens en die inhegtenisneming van vyf verdagtes.
In Mfuleni het die Anti-Ekonomiese Misdaadtaakspan, saam met die Span vir Vervalste en Onwettige Goedere, Woensdagoggend 24 Junie vroeg toegeslaan op ‘n woning in Minstrelstraat na aanleiding van intelligensie-inligting.
Tydens die deursoeking is 433,16 gram kristalmetamfetamien (tik), twee sakkies crack-kokaïen, mandrax-poeier, vier mandrax-tablette, ekstase, ‘n aangepaste nagemaakte vuurwapen en ‘n onbekende bedrag kontant gevind. ‘N man (51) en sy 29-jarige vriendin is in hegtenis geneem op aanklagte van besit en handel in dwelms, asook die besit van ‘n verbode vuurwapen. Die twee sal na verwagting binnekort in die Blue Downs-landdroshof verskyn.
In ‘n afsonderlike intelligensiegedrewe operasie het lede van die Anti-Bende Eenheid op Dinsdag drie verdagtes in Hanover Park gearresteer. ‘N 19-jarige man is in Lansry Walk aangekeer nadat hy glo in besit van ‘n verbode vuurwapen en agt rondtes ammunisie gevind is.
Kort daarna het polisiebeamptes ‘n 18-jarige verdagte by ‘n woning in dieselfde straat gearresteer nadat 15 sakkies tik, 51 sakkies heroïen en kontant daar ontdek is. ‘N verdere 27-jarige man is by Cascade Court gearresteer toe hy glo met ‘n verbode vuurwapen en 11 rondtes ammunisie betrap is.
Al drie verdagtes sal in die Athlone-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.
In nog ‘n voorval het SAPD-lede tydens sigbare polisiëringspatrollies in Manenberg, ‘n verlate vuurwapen met 17 rondtes ammunisie in ‘n oop veld tussen die spoorlyn en Yusuf Dadoo-straat gevind. Die vuurwapen is as bewysstuk ingeboek en verdere ondersoeke word gedoen.
Die jongste optredes vorm deel van die Wes-Kaapse polisie se voortgesette veldtog om dwelms, onwettige vuurwapens en bendeverwante misdaad uit gemeenskappe te verwyder.
