– Jeug Ontwikkelings Uitstalling By
CCN Verslaggewing
PIKETBERG:- “Ons jeug is die toekoms van Bergrivier, en om geleenthede vir hulle te skep om suksesvol te wees, bly ’n sleutelprioriteit.
Foto verskaf – Bergrivier Uitvoerende Burgemeester. Ray Van Rooy, saam met Speaker van Bergrivier Munisipaliteit, Rhandall Swarts, oorhandig ‘n skootrekenaar aan ‘n gelukkige leerder wat die LoTYDE in Piketberg bygewoon het.
Deur die Leaders of Tomorrow Jeugontwikkelingsuitstalling word leerders in verbinding gebring met tersiêre instellings en potensiële werkgewers, wat hulle help om geleenthede te verken en selfversekerde loopbaankeuses te maak.”
Dit was die woorde van raadslid Ray van Rooy, Uitvoerende Burgemeester van Bergrivier Munisipaliteit, wat die belangrikheid beklemtoon het om die verskillende studiegeleenthede, beursopsies en die spesifieke vereistes ten toon te stel om suksesvol in te skryf vir die gewenste graad, diploma of hoër sertifikaat by die instelling van hul keuse.
Bergrivier Munisipaliteit het sy 10de agtereenvolgende Leaders of Tomorrow Jeugontwikkelingsuitstalling (LOTYDE) Vrydag, 24 Julie 2026 by Steynville Primêre Skool in Piketberg aangebied. Meer as 400 leerders het die geleentheid bygewoon.
LOTYDE het simboliese betekenis – die akroniem staan vir ‘Leaders of Tomorrow Youth Development Expo’ en verwys na die laagwater van die see, waartydens ons jeug die nodige voorbereiding tydens hul hoërskooljare ontvang. Danksy deurlopende ondersteuning en bydraes van die Departement van Onderwys is LOTYDE in 2015 gestig. Dit word gedryf deur die Kantoor van die Uitvoerende Burgemeester en groei jaarliks.
Verteenwoordigers van die volgende skole was teenwoordig: Piketberg Hoërskool, Porterville Hoërskool, Steynville Sekondêre Skool en Velddrif Hoërskool. Verskeie hoëronderwysinstellings, soos die Gene Louw Verkeerskollege, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad, het van die kursusse en beurse wat hulle aanbied, ten toon gestel. Die Nasionale Studente Finansiële Hulp Skema (NSFAS) was ook teenwoordig om leerders met inligting by te staan.
Instellings soos Nedbank en Standard Bank het leerders ingelig oor verskeie rekeningpakkette en studielenings. Leerders het ook die geleentheid gehad om direk met verteenwoordigers te praat en vrae te stel oor hul toekomstige studie- en loopbaanopsies.
Vermaak is verskaf deur meester van seremonies Ashley Pienaar en die kunstenaar LudaG, wat gehelp het om ’n energieke en boeiende atmosfeer te skep.
Elke leerder het ’n gebrandmerkte LOTYDE-goodiesak ontvang met ’n waterbottel, streshal, potloodsakkie (met skryfbehoeftes) en ’n paar lekkernye. Daar was ook pragtige pryse wat uitgedeel is, onder meer 5 luidsprekers, 5 oorfone, 5 tablette en 1 skootrekenaar.
Bergrivier Munisipaliteit bedank al die deelnemende instellings, skole, opvoeders en belanghebbendes wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid.
