In noodlottige ongeluk op Bokomo-weg.
Malmesbury:- Drie mans is Saterdagaand (3 Oktober 2026) omstreeks 23:50 in ’n skrikwekkende ongeluk op Bokomo-weg in Malmesbury dood.
Kristoff “Kribo” Abrahamse (35), Chandré Daniels (46) en Paul Julius (41) was in ’n rooi VW Polo toe die voertuig glo beheer verloor het en in ’n stilstaande trok vasgejaag het.
Polisie het bevestig dat twee ligte motorvoertuie en ’n vragmotor by die botsing betrokke was. Al drie mans is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Abrahamse was ’n K9-narkotiese-hondehanteerder by die Swartland-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid. Hy het in 2016 as EPWP-werker begin, sy verkeersdiploma in 2018 by Gene Louw College voltooi en in 2019 by die K9-eenheid aangesluit. Hy was die pa van ’n eenjarige dogtertjie en die middelste van drie kinders. Sy ma, Michelle Abrahamse, sê die verlies is byna ondraaglik: “Hoe kon die Here ons geliefde seun van ons wegneem?”
Sy beskryf hom as ’n mense-mens wat lief was vir musiek en baie geliefd onder kollegas en vriende was. Sy Polo was volgens haar sy trots.
Die Swartland-munisipaliteit het met groot skok en hartseer van sy dood verneem. Mart-Marié Haasbroek, kommunikasie- en PR-beampte, sê: “Kristoff was ’n toegewyde lid van die wetstoepassings-eenheid en een van die K9-hondehanteerders.
Hy sal diep gemis word deur sy kollegas en almal wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk.” Die munisipaliteit beplan om hom op 29 Oktober tydens ’n Service Excellence-geleentheid te vereer.
Daniels en Julius was neefs. Daniels was ’n liefdevolle pa van ses kinders. Sy suster, Zeta Koopman, beskryf hom as haar “go-to person” met ’n groot hart wat altyd die ekstra myl vir ander geloop het. Sy het kort ná middernag die nuus gekry en onmiddellik na die toneel gejaag, waar haar oudste broer (’n paramedikus) reeds was. “Toe ek daar kom, het hulle net hul koppe geskud. Toe sê hulle hy het dit nie gemaak nie.”
Julius, ook ’n pa, is deur sy broer Errol beskryf as ’n man met ’n besonder goeie hart wat ander mense eerste gestel het en altyd ’n grappie gehad het, selfs in moeilike tye. “Dit breek my hart om te weet dat sy seun nou sonder sy pa moet grootword,” sê Errol. Paul was sy enigste oorblywende familielid nadat hul ouers oorlede is.
Die Malmesbury-polisie het drie aanklagte van strafbare manslag geregistreer. Konst. Ndakhe Gwala sê die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek. Daar is ook ’n onbevestigde familie-bewering dat ’n vierde persoon in die Polo was wat glo voor die botsing uitgespring het en nog nie opgespoor is nie. Die polisie kon dié bewering nie bevestig nie.
Geen begrafnisreëlings was ten tyde van hierdie berig beskikbaar nie.
CCN betuig sy diepste simpatie aan die families van Kristoff “Kribo” Abrahamse, Chandré Daniels en Paul Julius. Mag hulle siele in vrede rus.