Geen gratis skoolbus vir Le Chasseur-leerders nie – sonder koshuisakkommodasie sal kinders sukkel om skool by te woon
CCN Verslaggewer – Felicity Jooste
Robertson:- Ouers van plase in Le Chasseur, wie se kinders by Langeberg Sekondêre Skool skoolgaan, het ‘n dringende beroep om hulp gedoen, nadat hulle in kennis gestel is dat leerders met uitstaande koshuisgelde nie na die koshuis sal mag terugkeer nie totdat minstens R1 500 van die agterstallige bedrag betaal is.

Vir gesinne van Le Chasseur is die koshuis nie bloot ‘n gerief nie. Daar is geen gratis skoolbusvervoer vir hierdie leerders nie, en sonder koshuisakkommodasie sal die kinders dit uiters moeilik vind om Langeberg Sekondêr by te woon.
“Waar kry ons nou die geld?”
Wynie Smith, ‘n ouer van Le Chasseur wie se kind in die Langeberg-koshuis tuisgaan, het gesê plaasgesinne dra reeds swaar vervoerkoste bo en behalwe koshuisgelde.
“Ons plaasmense verdien nie wat mense in die dorpe verdien nie. Ander kinders kan skool toe stap of het ander vervoer. Ons moet ons kinders elke week per taxi gaan haal en terugneem. Dan moet ons ook nog koshuisgelde betaal. Waar kry ons R1 500 op ‘n Maandag?”
Smith het gesê ouers staan voor moeilike keuses omdat daar ander kinders en huishoudelike uitgawes is wat gedek moet word.
“Ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Ons wil ook hê ons kinders moet iets in die lewe bereik. Ons ander kinders het ook kos nodig. Help ons asseblief.”
“LIP vra vir dringende ingryping”
Davin Hull, woordvoerder vir die Langeberg Independent Party (LIP), het gesê die party aanvaar dat die koshuis bedryfskoste het en dat uitstaande geld ingevorder moet word, maar glo dat ‘n oplossing gevind moet word wat nie die kinders se toegang tot hul skoolprogram benadeel nie.
“Die skuld is tussen die ouer en die instelling. Die kind behoort nie die een te wees wat die prys betaal vir ‘n gesin se finansiële nood nie. Hier praat ons van plaasleerders wat nie sommer elke oggend skool toe kan stap nie,” het Hull gesê.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se omsendbrief 0035/2024 bepaal dat nie-betaling van koshuisgelde op dieselfde wyse hanteer moet word as nie-betaling van skoolgeld, en dat behoorlike prosedures gevolg moet word voordat stappe teen ‘n ouer gedoen word. Die riglyn maak dit ook duidelik dat ‘n leerder nie deelname aan ‘n openbare skool se program ontsê of daaroor geviktimiseer mag word bloot omdat ‘n ouer nie koshuisgelde betaal nie.
Die departement erken voorts dat daar leerders is vir wie inwoning in ‘n koshuis die enigste manier is om skool by te woon, en maak daarom voorsiening vir koshuissubsidies vir kwalifiserende leerders. Onlangse aanpassings het ook die maksimum koshuissubsidie verhoog wat aan behoeftige leerders betaalbaar is.
Hull het gesê die Langeberg Independent Party wil hê die skool, die beheerliggaam en die Kaapse Wynlande-onderwysdistrik moet dringend aandag skenk aan die omstandighede van die Le Chasseur-gesinne, insluitend moontlike koshuissubsidies en bekostigbare betalingsreëlings.
“Ons moet ‘n oplossing vind voordat die skool Maandag begin. Hierdie ouers vra nie dat verantwoordelikheid prysgegee word nie. Hulle vra dat hul kinders steeds die geleentheid moet hê om skool by te woon en ‘n toekoms te bou,” het Hull gesê.
