
Volgens bekommerde inwoners het die mynskag in n groot gat ontwikkel waarin tans water opgegaar lê. Die water bevat kopersuur en dreig om tussen die huise te beland as die walle bars en n soort oorstroming kan veroorsaak.
Tans is dit n soort slikdam van die destydse Okiep Copper Company (OCC) het n inwoner, Benito Abrahams, onlangs in ‘n video opname vertel.
“Lank voordat die water uit die ou myndam begin stroom het, het inwoners van Okiep reeds die gevaar aangemeld. “Hulle het briewe geskryf, die stygende watervlak dopgehou en ‘n vreedsame optog begin organiseer nadat die Nama Khoi-munisipaliteit (NKM) nie op hul skrywes gereageer het nie.
“Die optog is uitgestel nadat die munisipaliteit ‘n vergadering aangevra het.”
Volgens hom was die gevaar van die dam op 28 September bespreek en het die NKM verantwoordelikheid erken en onderneem om die druk op die damwal te verlig. Daar was egter geen sigbare optrede nie en stroom die suurhoudende water al geleidelik uit die dam uit.
Die Vrye, Voortdurende en Vooraf Toestemming gemeenskapsbeweging (VVVT) het intussen besluit om die Okiep-gemeenskap te ondersteun. Hulle glo daadwerklike optrede is nou prioriteit.
Intussen was n beplande opelug- vergadering, op 22 Oktober, met die Okiepgemeenskap en die NKM afgestel. Hieroor is die VVVT asook die gemeenskap baie ongelukkig.
Hulle vrees dat daar eers n ramp by die slikdam gaan plaasvind, voordat die plaaslike owerhede na hulle oproepe gaan luister.

