Teen Nababeep
Verslaggewer – Isaac Cloete
GARIES: – Marigolds RFC van Garies het Saterdag in ’n dramatiese Afdeling 1-finaal van die Kangnas Rugbykompetisie met 34-31 teen Nababeep RFC geseëvier op McCloud Park in Nababeep.
Marigolds RFC van Garies is die nuwe rygby – kampion in Afdeling 1 van Namakwaland Rugby
Die wedstryd, wat byna 45 minute later as beplan begin het, was van meet af gelaai met spanning. Eers is ’n lynregter beseer en kort daarna die skeidsregter self. Beide amptenare moes vervang word, wat die drama net verder aangevuur het.
Nababeep het soos ware kampioene begin en gou met 10-0 voorgeloop ná twee vroeë drieë. Die tuisspan se skrumwerk was dominant en Marigolds het min balbesit gekry. Dit was eers na byna ’n halfuur se spel dat die besoekers hul voete gevind en die telling gelyk gemaak het op 10-10. Net voor rustyd het Marigolds die voorsprong oorgeneem en met 18-10 die kleedkamers ingegaan.
Die tweede helfte was ’n ware wipplank.
Die telling het heen en weer beweeg tot die slotminute. Met Marigolds 23-24 agter, het die tuisspan se ondersteuners luidkeels “Wie maak vir Biepstad lekker” gesing. Twee strafskoppe later was die telling 29-24 in Marigolds se guns. Nababeep het egter teruggekom met ’n pragdoel en die voorsprong herwin op 31-29.
Baie het die eindfluitjie verwag, maar die plaasvervanger-skeidsregter het oordeel dat daar nog speeltyd oor was. Marigolds het toe in die regterkantse hoek ’n drie gedruk. Die doelskop was bysaak.
Die eindtelling: 34-31 vir Marigolds.
Kaptein Eugene Julie, wat die leierskap oorgeneem het nadat die permanente kaptein onlangs beseer is, was beskeie maar duidelik trots. “Ons was al in vorige finales, maar in 2026 kan ons uiteindelik spog as die kampioene. Ons het vier jaar gewag om hierdie trofee te lig,” het hy gesê. Julie het bygevoeg dat die oorwinning groot betekenis vir die gemeenskap van Garies het, veral te midde van die hartseer en uitdagings wat die Kamiesberg-streek die afgelope weke getref het.
Monte Engelbrecht, president van die Griekwas, het die geleentheid bygewoon saam met amptenare van die Namakwaland Rugby Unie, onder meer Chris Engelbrecht en Gordon de Jongh. Engelbrecht was tevrede met die dag se verrigtinge, maar het die wens uitgespreek dat die finales van Afdeling 1 en 2 in die toekoms op verskillende Saterdae gespeel word.
Marigolds se sege sluit ’n spannende seisoen af en gee die Garies-gemeenskap iets om oor te trots te wees.

