“Goud Simboliseer Luuksheid, Sukses en Voorspoed”
Verslaggewer – Isaac Cloete
SPRINGBOK:- SA van Wyk Hoërskool is kliphard besig om sy 50ste jubileum in styl te vier.
Die afgelope maande is daar ononderbroke gewerk aan ’n goedbeplande en uitsonderlike feesprogram wat binnekort ’n reuse sukses beloof te wees.
Die hoogtepunt vind volgende naweek (16–17 Augustus) plaas, wanneer die veelbesproke “Winterbal” aangebied word. ’N gebeurtenis waarna oud- en huidige leerders lank gaan uitsien en nog lank gaan onthou.
Desmon Watt, voorsitter van die feeskomitee, sê selfversekerd; “Hierdie is ongetwyfeld die “dans van die jaar”, ’n okkasie waaroor mense nog oor jare sal praat.”
Die legendariese Kallies Dance Band van Elgin word spesiaal “ingevoer” om die dansvloer vol en die voete moeg te hou. Behalwe vir die musiek en gedansery sal daar ook heerlike etes, lekker geselskap en menige “kuierhoekie” wees.
Voor die dans begin, is daar reeds ander opwinding: ’n prettige gholfdag op Vrydagmiddag, asook ’n nostalgiese besoek aan die maroen skoolgeboue van SA van Wyk. Beslis genoeg tyd vir ou vriende om herinneringe te deel en dalk ’n traan of twee weg te pik.
Hoewel die volle feesprogram nog nie verklap word nie, kan feesgangers verseker wees: “Seeing is believing.” En as jy nog nie ’n danskaartjie het nie, is die kans groot dat jy gaan uitmis.
Op ’n ligter not, die skool en komitees het die afgelope tyd hard gewerk om fondse in te samel vir hierdie goue jubileum. Die groot totaal word dieselfde aand by die dans bekend gemaak, en volgens gefluisterde bronne gaan dit ’n “goue bedrag” wees. Vir baie oud-leerders, onderwysers en personeel gaan 16 Augustus by die Namakwa Gasteplaas/Guestfarm ’n spesiale oomblik wees, ’n geleentheid om mekaar ná 50 jaar weer in die oë te kyk.
’N bietjie geskiedenis
SA van Wyk Hoërskool, geleë in Bergsig, het in 1972 begin met ’n klein groepie standerd 7-leerders van omliggende myndorpe rondom Springbok. Die eerste hoof was wyle mnr William “Billy” Parsons. In 1975 het die skool ’n volwaardige hoërskool geword onder leiding van wyle mnr Samuel Anton van Wyk, na wie die skool later vernoem is. Hoewel die skool as instelling al 53 jaar bestaan, vier dit vanjaar sy 50ste jaar as volwaardige hoërskool, ’n ware goue mylpaal.
Kommentaar: “SA van Wyk is goud, en goud simboliseer luuksheid, sukses en voorspoed. Hierdie feesjaar is ’n herinnering dat tradisie en trots hand aan hand kan stap met toekomsdrome.
Mag die volgende vyftig jaar net so blink wees.”

