Skip to content

Cape Coast News

Real life news from all over the Western Cape

  • Home
  • Write for us
  • Contact us

Hopefield se Grootste Probleem

Posted on August 22, 2026 By The Editor
opinion/editorial

Maar Wie daag Op?

CCN Redakteur – Verslaggewer

Hopefield:-  ‘N gemeenskap met ’n lang geskiedenis van verdeeldheid. Maar die vraag wat inwoners hulself vandag moet vra, is dalk veel groter as bloot die vraag wie is vir of teen ’n bepaalde ontwikkeling?

Die vraag is:
Waar is die gemeenskap wanneer die geleentheid daar is om vrae te vra, antwoorde te kry en besluite te beïnvloed? Dit is ’n vraag wat ons nie net aan een groep inwoners kan stel nie.  Dit is ’n vraag aan die hele Hopefield.
Gemeenskap Vergaderings: ons kla, maar woon ons dit by?
Een van die grootste probleme in Hopefield, is dat inwoners dikwels baie sterk menings het wanneer ’n besluit reeds geneem is – maar dat dieselfde mense nie noodwendig by die vergadertafel is wanneer die geleentheid bestaan om hul stem te laat hoor nie.

Dit skep ’n gevaarlike situasie.
Wanneer belangrike gemeenskaps kwessies bespreek word en inwoners bly weg,  kan hulle later moeilik sê dat niemand hulle die geleentheid gegee het om deel te neem nie.
Is ’n leë stoel by ’n gemeenskaps vergadering nie dalk een van die duurste vorme van stilbly nie?

Kropz en die myn: het ons nie reeds hierdie film gesien nie?
Voor die mynontwikkeling het Hopefield reeds verdeeld geraak.
Daar was mense wat die moontlike voordele van ontwikkeling en werkskepping beklemtoon het, terwyl ander vrae oor die langtermyngevolge gevra het.
Vandag is daar inwoners wat meen dat veral die bruin gemeenskap die grootste slagoffers van die gevolge geword het.
Een van die belangrikste lesse uit daardie ervaring behoort egter te wees:
Wat is op skrif?
Want wanneer daar later ’n dispuut ontstaan, is dit nie genoeg om te sê: “Maar ons is dit belowe.”
Waar is die dokumente?
Waar is die ooreenkomste?
Waar is die gemeenskap se beskerming?
Waar is die meganismes wat inwoners in staat stel om hul regte af te dwing?
Dit is vrae wat vóór ontwikkeling gevra moet word,  nie eers nadat mense voel hulle is benadeel nie.

En nou is daar die Solarplaas
Hopefield staan vandag voor nóg ’n groot ontwikkeling.
Die debat rondom die voorgestelde solarplaas het reeds verdeeldheid in die gemeenskap veroorsaak.
Sommige inwoners beweer dat wit inwoners teen die projek is, terwyl werkloosheid onder bruin inwoners as ’n belangrike rede aangevoer word waarom die projek ondersteun behoort te word. Maar is dit werklik so eenvoudig?
Kan ’n mens ’n projek ondersteun bloot omdat daar moontlik werk kan wees, sonder om eers al die ander vrae te vra?

En aan die ander kant:
Kan ’n mens teen ’n projek wees sonder om eers die moontlike voordele behoorlik te ondersoek?
Die antwoord op albei behoort dieselfde te wees:
Kom sit om die tafel – Vra die vrae.
Luister na die antwoorde.
Lees die dokumente.
Maak seker wat op skrif staan.
Dán neem jy ’n ingeligte besluit.
Daar is reeds vrae oor onder meer water, landbougrond, bestaande werksgeleenthede, bye en bestuiwing, die impak op plaasaktiwiteite en die veiligheidsaspekte van groot batteryberging.
Dit beteken nie dat die solarprojek noodwendig sleg is nie.
Dit beteken ook nie dat dit noodwendig goed is nie.
Dit beteken eenvoudig dat ’n gemeenskap die reg het om eers ANTWOORDE te kry voordat dit BESLUITE neem.

Maar waar is almal?
Hier raak die probleem ernstiger.
Daar was ’n gemeenskaps vergadering oor die solarprojek.
Waar was die inwoners wat sê hulle is bekommerd oor werkloosheid?
Waar was die inwoners wat sê die projek is nodig?
Waar was die inwoners wat voel hulle word nie gehoor nie?
Waar was die inwoners wat beweer dat wit mense teen die projek is?
Was dit nie juis die geleentheid om daardie stemme hard en duidelik te laat hoor nie?
As mense nie die vergaderings bywoon nie, wie praat dan namens hulle?
En wanneer besluite geneem word, wie dra dan die verantwoordelikheid?
’N persoonlike ervaring wat my nooit verlaat het nie
As gemeenskapsaktivis het ek jare gelede ’n ervaring gehad wat my diep geraak het.
Ek is deur ’n vroulike polisiekaptein van die Saldanhabaai-polisie na haar kantoor ontbied.
Sy het my gevra of ek nie bereid sou wees om saam met die polisie aan jeugprogramme in Diasville en White City te werk nie.
Ek het haar gevra waarom hulle my nader.
Haar antwoord het my geskok:
“Ons weet u is van Hopefield. Maar u gemeenskap stel nie belang in wat u probeer doen nie. Ons stel belang, omdat ons weet watter verskil u aan ons jongmense kan bring.”

Daardie woorde het my bygebly.
Want hoe kan ’n gemeenskap verwag dat ander mense hulle moet help,  as die gemeenskap self nie bereid is om betrokke te raak nie?
Kan ’n gemeenskap so sonder visie wees?
Dit is dalk die moeilikste vraag van almal.
Nie omdat Hopefield se mense nie intelligent is nie. Nie omdat hulle nie omgee nie.
Maar omdat ’n gemeenskap sonder deelname maklik ’n gemeenskap word waarvan ander mense namens hom besluit.
Dit is waarom die stigting van die Hopefield Gemeenskap Forum vir my nooit oor politiek gegaan het nie.
Dit gaan oor ’n georganiseerde gemeenskapsstem.
’n Forum waar inwoners saam kan vra:
Wat gebeur met ons water?
Wat gebeur met ons grond?
Wat gebeur met ons werksgeleenthede?
Wat staan in die ooreenkomste?
Wie is verantwoordelik wanneer beloftes nie nagekom word nie?
Wie beskerm die gemeenskap se belange?
En miskien die belangrikste vraag:
Waar is ons wanneer hierdie dinge bespreek word?
Hopefield het ’n keuse
Ons kan aanhou om mekaar te beskuldig.
Wit teenoor bruin.
Vir ontwikkeling teenoor – teen ontwikkeling.
Werk teenoor omgewing.
Myn teenoor gemeenskap.
Politiek teenoor burgerlike betrokkenheid.

Of ons kan besef dat hierdie probleme uiteindelik ons almal se probleme is.
Die kleur van die persoon wat langs jou sit, gaan nie bepaal of daar môre genoeg water is nie.
Dit gaan nie bepaal of ’n ooreenkoms behoorlik nagekom word nie.
Dit gaan nie bepaal of ’n kind werk kry nie.
Dit gaan nie bepaal of die gemeenskap se belange beskerm word nie.
Ons moet ophou om mekaar aan te val en begin om die probleme as ’n gemeenskap te bespreek.
Daarom is gemeenskaps vergaderings nie ’n formaliteit nie.
Dit is waar ’n gemeenskap se stem behoort te wees.
Want wanneer die volgende groot ontwikkeling voor Hopefield se deur staan, moet ons nie weer ná die tyd vra:
“Waarom het niemand ons gewaarsku nie?”
Miskien behoort die vraag eerder te wees:
“Waarom was ons nie daar toe ons die geleentheid gehad het om self vrae te vra nie?”

Eers ANTWOORDE. Dan BESLUITE.
Hopefield se toekoms behoort nie deur verdeeldheid bepaal te word nie,  maar deur ’n ingeligte, betrokke en verenigde gemeenskap.

Please share with your friends:

Post navigation

❮ Previous Post: Goue Spele – vier Aktiewe en Gesonde leefstyl

You may also like

opinion/editorial
Kameras skielik verbied in Hopefield biblioteek
December 21, 2025
opinion/editorial
 Nog ’n Meinhardt – Net op ’n ander deel van die planeet
December 23, 2025
opinion/editorial
Persoonlike Vertellinge –
July 12, 2026
opinion/editorial
Voices of Our Children – A Cry We Can No Longer Ignore
December 10, 2025

Recent Posts

  • Hopefield se Grootste Probleem
  • Goue Spele – vier Aktiewe en Gesonde leefstyl
  • Spesiale Taakmag beëindig vyandige skietstryd 
  • Patrick Claassen: Die Hopefield-seun wat Craven Week gehaal het
  • HOPEFIELD SE WATER EN WERK

Recent Comments

No comments to show.

Archives

  • August 2026
  • July 2026
  • June 2026
  • May 2026
  • April 2026
  • March 2026
  • February 2026
  • January 2026
  • December 2025
  • November 2025
  • October 2025
  • September 2025
  • August 2025
  • July 2025
  • June 2025
  • May 2025
  • April 2025
  • March 2025
  • February 2025
  • January 2025

Categories

  • Community
  • Headline
  • Headlines
  • History
  • National News
  • opinion/editorial
  • Sponsored content
  • Sport
  • Uncategorized

Copyright © 2025 Cape Coast News | Privacy | Disclaimer

Theme: Oceanly News by ScriptsTown