BOER WEIER STEEDS SAMEWERKING
CCN Verslaggewer – George April
Wellington:- Gesinne wat op die plaas Leeurivier naby Wellington woon, sit al vir byna 10 jaar sonder elektrisiteit, omdat die grondeienaar, mnr. Gregor Jenkins, weier om samewerking te verleen sodat Eskom die wonings kan elektrifiseer.
Deon Carelse, gemeenskapsaktivist van Kaapstad is verlede jaar deur CCN genader om die gesinne in hulle stryd te help om basiese kragvoorsiening te kry. Eskom is bereid om die aansluitings te doen, maar die boer weier steeds om toestemming te gee of toegang te verleen.
Nadat Carelse die boer skriftelik genader het om te verduidelik waarom hy nie net die nodige samewerking verleen nie, het Jenkins ’n WhatsApp-boodskap gestuur waarin hy onder meer beweer dat die gesinne “geen huur betaal nie, nie vir hom werk nie en niks bydra nie”. Hy het verder gesê hulle moet eerder “ophou drink en rook en ’n sonpaneel koop”, en dat enige beroep op hul regte “vulgêr” is. Hy het ook gedreig om die saak hof toe te neem.
Deon Carelse het toestemming gegee dat die inhoud van die boodskap openbaar gemaak word.
CCN het nou ’n formele brief aan mnr. Jenkins gestuur en dit aan die volgende instansies gestuur vir dringende optrede:
- Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (Wes-Kaap)
- Die Kantoor van die Premier van die Wes-Kaap
- Die Minister van Elektrisiteit en Energie
- Die Landelike Hof
- Drakenstein Munisipaliteit
- Eskom Wes-Kaap
In die brief word Jenkins daaraan herinner dat die Hoogste Hof van Appèl in die saak Kruger v Sibanyoni (2025) duidelik beslis het dat plaasbewoners nie die grondeienaar se toestemming nodig het om elektrisiteit te laat installeer nie. Elektrisiteit word as ’n redelik noodsaaklike verbetering beskou om ’n woning bewoonbaar te maak en hang direk saam met die reg op menswaardigheid. In hierdie geval probeer almal betrokke hulle samewerking gee om saam met Jenkins te werk sondat die basiese diens wel gelewer kan word.
CCN het ook daarop gewys dat die Menseregtekommissie reeds meer as ‘n jaar gelede oor dié saak genader is, maar dat daar tot dusver geen merkbare optrede gevolg het nie. Die gesinne op Leeurivier bly intussen in die donker.
CCN sal die saak noukeurig volg en die gemeenskap op hoogte hou van enige ontwikkelinge.
