Berig – George April
HOPEFIELD:- Die plan om een van die wêreld se grootste sonkragplase net buite Hopefield te bou, het ‘n storm van vrae en bekommernisse losgemaak.
Sonder die teenwoordigheid van die projekontwikkelaars, het ’n plaaslike vergadering Dinsdag duidelik gewys. Die gemeenskap word in die duister gehou oor kritieke aspekte van hierdie sogenaamde “Groen Projek”.
INTERNASIONALE VOORBEELDE -Waarom So Na Aan Ons Dorp?
Oor die wêreld heen word grootskaalse sonkragplase doelbewus ver van mense af gebou:
Benban Sonkrag Park (Egipte): 1 650 MW, 40 km van die naaste dorp in die woestyn.
Dhirubhai Ambani Sonkrag Park (Indië) – In die Thar-woestyn, verwyderd van woongebiede.
Golmud CPV Sonkrag Park (China) – Op die Tibetaanse plato, ver van enige stedelike sentrum.
Touwsrivier CPV (SA) – Selfs in Suid-Afrika is hierdie aanleg 13 km van die dorp af.
Maar in Hopefield?
Die beplande aanleg is op die dorp se voorstoep.
RISIKO’S: Groen Energie met Donker Gevolge
Groot battery stelsels – soos dié beplan vir Hopefield, gebruik dikwels lithium-ioon tegnologie. Dié tegnologie is wel bekend, maar hou ernstige gevare in:
Termiese wegholreaksies – Een oorverhitte sel kan tot ontploffings en grootskaalse brand lei.
Plaaslike voorvalle – In Januarie 2025 is ’n gesin in Vanderbijlpark ernstig beseer toe so ’n battery ontplof het.
Internasionale optrede – Dorpe soos Raquette Lake (New York, VSA) het reeds battery stoor projekte verbied weens veiligheidsrisiko’s.
Nou vra Hopefield se mense: hoekom hier? Hoekom naby huise, skole, ouetehuise en klein kinders?
WATERGEBRUIK: ’N Dorp wat droog gaan word?”
Die aanleg gaan miljoene liter water verg, vir stofbeheer, verkoeling en betonmengsels. Waar gaan hierdie water vandaan kom?
Wie gaan toegee?
In ’n fynbosstreek soos Hopefield is elke liter belangrik, en sonder duidelike antwoorde oor die bron en impak op bestaande waterbronne, is dit ’n rooi vlag.
Nie een druppel krag vir Hopefield nie?
Wat dalk die bitterste pil is, is dat nie Hopefield nie, en nie eers Eskom nie, enige van die elektrisiteit gaan ontvang. Die elektrisiteit sal waarskynlik direk verkoop word aan private kliënte of oorsese kopers.
Wat bly dan oor vir Hopefield?
’n Geskende – landskap
Stof en geraas
Gevaarlike verkeer
Tydelike werk – met geen sekerheid vir plaaslike mense nie
Geen langtermyn ekonomiese voordele
SALDANHABAAI MUNISIPALITEIT Waar is Hulle?
Tydens die gemeenskapsvergadering is vinger gewys na die Saldanhabaai Munisipaliteit. Waar is hulle in hierdie proses? Is dit nie hul grondwetlike plig om gemeenskappe by te staan in so ‘n massiewe ontwikkelings besluit nie? Waarom is Hopefield se mense elke keer laaste aan die beurt, en net “goed genoeg” vir skade?
GEMEENSKAP – Staan Op Terwyl Daar Nog Tyd Is
Die Hopefield-gemeenskap moet hul regte ken en hul stemme gebruik. Hierdie is nie ’n klein projek nie. Dis ‘n multi-miljard rand ontwikkeling wat ons dorp vir altyd kan verander. Maar dit kan ook die toekoms van almal benadeel
Vooruitgang beteken nie vernietiging nie, maar. “Groen energie” mag nooit teen mense gebruik word nie.
DIS NIE NET ‘N STORIE NIE –
DIS ‘N WAARSKUWING

