HOPEFIELD:- Ons by CCN wil vandag ’n ernstige saak aanraak wat diep by ons lê.
Dit handel oor ’n 20-jarige jongman van Hopefield wat tans in Groote Schuur-hospitaal lê met ernstige rug- en nekbeserings wat hy opgedoen het tydens ’n rugbywedstryd. Volgens sy ouers het hy reeds voor dié wedstryd met ’n skouerbesering gesukkel en wou aanvanklik nie speel nie. Maar toe hy versoek is om die span te ondersteun, het hy, uit lojaliteit en ’n sin van verantwoordelikheid teenoor sy klub, tog ingestem om te speel.
Ongelukkig is dit ’n besluit wat sy lewe ingrypend verander het, vandag lê hy in ‘n hospitaalbed, onseker of hy ooit weer normaal sal kan funksioneer.
Ons wys nie met die vinger na die klub of die rugbyunie nie.
Dis ook nie ons plek om oordeel te vel voordat al die feite op die tafel is nie. Wat ons wel wil sê, is dit: Sport is belangrik – maar jou gesondheid is belangriker.
Ons wil vandag elke jong sportman en -vrou, ouer en afrigter aanmoedig, om een belangrike vraag te vra voor enige wedstryd….!
Is ek of my kind fiks en herstel genoeg om aan hierdie wedstryd deel te neem?
Ons almal weet hoe trots ‘n mens voel om jou dorp of span se kleure te dra, maar soms moet ‘n moeilike besluit geneem word om jou liggaam en toekoms te beskerm. Geen wedstryd is die opoffering van jou gesondheid werd nie.
CCN wens die jongman en sy ouers alle sterkte toe met sy herstel, en ons vertrou dat hy die nodige mediese sorg en ondersteuning sal ontvang wat hy verdien. En aan elke klubbestuur en sportunie, ons herinner julle net aan morele plig, nie net teenoor die spel nie, maar teenoor die mense wat dit speel en ondersteun.
Sodra ons media-navrae volledig beantwoord is, sal CCN die volle verhaal aan die publiek bekend maak.
Die res los ons in God se hande.
– CCN Redaksie
