MAAR HUL LEIERS
’N sosiale boodskap wat die hart tref, verwerk vir CCN. 
Skrywer – George April
Inspirasie deur Cedric Bruintjies
Daar word dikwels gesê mense verlaat hul werk oor geld, of omdat hulle nie kon aanpas nie. Maar die harde waarheid is, mense verlaat dikwels hul leiers.
Nie altyd nie – maar baie meer gereeld as wat ons wil erken.
Ons sê iemand het bedank omdat die salaris te min was, of omdat hulle nie “ingepas” het nie. Maar diep binne weet ons, dis hoe daardie persone behandel was, wat hulle laat loop het.
Wanneer daar min respek of menswaardigheid is in ’n werksomgewing, wanneer leiers hul mense eerder oorheers as ondersteun, dan gaan mense. En dit is nie altyd kollegas of bestuur nie. Dis meestal hul direkte leier wat die finale druppel is.
“Leierskap vra karakter – nie net ’n titel nie”
Ware leiers verstaan, mense bring hul hele lewe werk toe. Jy weet nooit wie ’n siek kind by die huis het nie, of wat iemand emosioneel dra nie. En daarom moet ons as leiers optree met deernis, begrip en respek.
’N gelukkige mens is ’n lojale werknemer.
Hulle sal hul werk beskerm, en hul hart gee vir dit wat sin maak.
En die geheim?
Hulle doen dit nie net vir geld nie, maar vir hoe jy hulle laat voel.
Ongelukkig noem baie hulself vandag “leiers” sonder om ooit in ’n werklike leiersrol te wees. Maar mense sien gou deur dit. Leiers word nie self verklaar nie, hulle word erken. Deur hul optrede – hul gedrag – hul waardes. Deur hoe hulle ander behandel, veral wanneer niemand kyk nie.
Persoonlike weerklank – Ek ken daardie pad
As iemand wat vir jare as bouvoorman, en projek bestuurder op groot konstruksie terreine gewerk het,, weet ek hoe dit voel om met verskillende mense te werk. Ook in my veld as skrywer en boukontrakteur, weet ek waarvan Cedric praat. Jy werk met honderde verskillende mense, maar jy maak ook baie vriende.
Tog was ek dikwels gekritiseer toe ek voorstelle of menings gedeel het, meestal deur dié wat meer soek na aandag as na impak.
Maar ek glo steeds
Ons is hier om ’n verskil te maak, nie net om gesien te word nie.
Cedric se boodskap het my diep geraak. Dit verdien om wyer gehoor te word. Dis ’n stem van waarheid, van ervaring, en van hoop.
My boodskap aan Cedric – Ek SALUUT JOU….!
Cedric, ek eer jou vir jou woorde, jy het gesê wat baie mense voel, maar nie durf sê nie. Jou eerlikheid en insig herinner ons almal wat dit beteken om ’n werklike leier te wees, een wat mense optel, nie afbreek nie.
Hierdie storie is vir elkeen wat al gewonder het of hulle goed genoeg is. Of wat probeer om reg te doen in ’n wêreld, waar eerlikheid soms nie waardeer word nie.
✍️ Deel hierdie storie met iemand wat dit moet hoor. En as jy self met sulke probleme sit, weet jy, jy is nie alleen nie….


