CCN Verslaggewer – George April
Hopefield:- “Nee vir Sasolburg by die see” maar konstruksie begin reeds?
‘N groot artikel in Die Papier (24–30 Julie 2026) het die sterke teenkanting teen die voorgestelde e-brandstofaanleg en massiewe sonkragprojek naby Hopefield weer op die voorblad geplaas.
Die opskrif sê dit duidelik: “E-brandstofaanleg: Nee vir ‘Sasolburg by die see’”.
Die projek, aangevoer deur die Phelan Green Group, behels ‘n e-vliegtuig brandstofaanleg (eSAF) saam met duisende hektares sonpanele net buite Hopefield.
Volgens die artikel is R47 miljard reeds in die projek belê. Die maatskappy beplan om teen 2028 sowat 35 000 ton e-brandstof te produseer, wat later verdubbel kan word.
Groot bekommernisse wat uitgelig word
Inwoners van Hopefield, Langebaan, Velddrif, Vredenburg en Saldanha, asook verskeie omgewingsorganisasies, staan sterk teen die ontwikkeling. Hul hoofkwessies sluit in:
Die vernietiging van sensitiewe ekostelsels en Hopefield-sandfynbos.
Die enorme waterverbruik, tot 8 megaliter drinkwater per dag.
Risiko van grondwater- en rivierbesoedeling (veral die Soutrivier wat in die Bergrivier vloei).
Die nabyheid aan die dorp en die moontlike verandering van die hele landskap.
Kevin Maart van die Alkonese Cochoqua Erfenis bewaringsliggaam, sê die projek kan 2 500 konstruksie geleenthede skep, maar slegs ‘n paar honderd permanente poste. Hy en ander organisasies soos Protect the West Coast, WOBA en People and Parks program dring aan op behoorlike studies en deursigtigheid.
Die vraag wat nou oral gevra word
Baie gewone inwoners vra dieselfde ding:
Die projek het nog nie die finale groen lig gekry nie, maar geboue is reeds gekoop en konstruksie terreine word al opgesit.
Hoe moet gewone mense ooit daarin slaag om so ‘n multi-miljard-rand projek te stop as dit lyk of die bal al begin rol?
Hierdie situasie skep groot onsekerheid en frustrasie. Terwyl die omgewingsmagtigingsprosesse en openbare deelname nog nie afgehandel is nie, voel baie dat feite op die grond reeds begin verander.
Oproep aan die gemeenskap
CCN doen ‘n ernstige oproep aan inwoners van Hopefield, Velddrif, Laaiplek, Port Owen, Langebaan en die hele Weskus:
Kom na vore met julle vrae en bekommernisse.
Eis duidelike antwoorde oor waterbronne, risiko’s vir die Bergrivier-stelsel, langtermyn-impakte en werklike plaaslike voordeel.
Moenie stilbly nie.
Die tyd om vrae te stel en deel te neem, is nou.
Ons is nie teen werkskepping of ontwikkeling nie. Ons is teen ‘n proses waar gemeenskappe eers later hoor wat regtig aan die gang is.
Bron:DiePapier en plaaslike gemeenskaps inligting.
