CCN Verslaggewer
ATLANTIS – Stacey Lee Hector en haar lewensmaat, Wade van Reenen, albei 39 jaar oud, het saam in die Atlantis-landdroshof verskyn op verskeie ernstige klagtes wat verband hou met die dood van Malcolm Pather (41). 
Sy liggaam is op 14 Julie verkool in ‘n voertuig langs die Old Mamre-Darling-pad naby Melkbosstrand gevind.
Volgens die polisie is Pather die vorige dag, 13 Julie, laas lewend gesien toe hy sy woning in Richwood verlaat het in ’n blou BMW 1-reeks. Sy selfoon is dieselfde aand afgeskakel. Die voertuig is later in Mitchells Plain opgespoor, maar van Pather was daar geen teken nie.
Hector is op 25 Julie in hegtenis geneem, maar moes haar hofverskyning op 28 Julie uitstel ná sy in die hospitaal opgeneem is weens ‘n selfmoordpoging. Sy het uiteindelik saam met Van Reenen in die hof verskyn, waar hulle na bewering hand aan hand geloop het en teder met mekaar gesels het voordat hulle terug na die aanhoudingselle geneem is.
Beide beskuldigdes staar verdere klagtes in die gesig, insluitend ontvoering en regsverydeling. Volgens bewerings het Pather op die dag van sy verdwyning ‘n ontmoeting met Hector in Table View gereël. Daar word vermoed dat hy in ‘n lokval gelei is en daarna deur die paartjie ontvoer en afgepers is.
Bronne beweer dat ‘n bakkie wat vroeër in Goodwood tussen 12 en 13 Julie as gesteel aangemeld is, twee keer aan die brand gesteek is – een keer sonder en ‘n tweede keer met ‘n liggaam agterop. Videomateriaal van die misdaadtoneel het glo gehelp om een van die verdagtes te identifiseer, nadat hy in besit van Pather se motor was.
Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het bevestig dat die liggaam heeltemal verkool is en dat alle leidrade by die toneel noukeurig gevolg is om verdagtes op te spoor.
Die staatsaanklaer het aangedui dat hulle borgtog sal teenstaan, aangesien daar kommer bestaan dat die beskuldigdes die verhoor sal probeer ontduik, veral omdat hulle glo die getuies ken. Van Reenen het ook ’n vorige skuldigbevinding rakende dwelms.
Die saak is uitgestel tot 4 Augustus vir die borgtogaansoek. Albei bly in aanhouding.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met meer inligting om vorendag te kom. Kontak asseblief sers. Theys by 072 560 2512, sers. Pietersen by 082 469 6277 (beide van Melkbosstrand SAPD), of speurdersers. Jaftha van Bothasig SAPD by 064 775 7492.
Foto – Wade van Reenen (Sosiale media)

