Gesin in Skok, Polisie Ondersoek Saak
Verslaggewer – Felicity Jooste
Athlone:- ’N Kaapse gesin is in skok en trauma nadat hul agtjarige seun glo seksueel aangerand was deur ’n medeleerder in die toilet van Garlandale Primêre Skool in Athlone.
Polisie woordvoerder, kaptein FC van Wyk, het bevestig dat ’n saak van seksuele aanranding by Athlone SAPD geregistreer is.
“Hierdie kantoor kan bevestig dat die voorval as ’n saak van seksuele aanranding ondersoek word. Die ondersoek duur voort, geen arrestasie is nog gemaak nie,” het Van Wyk gesê.
Volgens die ouers het die “Skool” dit nie ernstig genoeg opgeneem nie”
Volgens die ouers van die graad twee-leerder het hulle op Dinsdag, 16 September, ’n oproep van die klasjuffrou ontvang, wat net gesê het dat “iets sensitief gebeur het”. Hulle is gevra om die volgende dag skool toe te kom, sonder enige verdere verduideliking.
Die ma het vertel wat met haar kind gebeur het…
“Hy het eers tydens aandete die moed gehad om te vertel. Hy het verduidelik dat hy in die badkamer ingesleep is, op die kop geslaan is en gedwing is om sy broek af te trek”. “Hy het geskree, en nog ’n kind het uiteindelik ’n onderwyser gaan roep”. “Maar toe hy verduidelik wat gebeur het, het die onderwyser hom glo nie geglo nie.”
Die pa sê hulle was woedend toe hulle die volle besonderhede hoor:
“Ek het onmiddellik my prokureur gekontak, wat ons aangeraai het om direk polisiestasie toe te gaan. Teen 23:00 die aand is ons na die GBV-kliniek waar dokters my seun ondersoek het.” “Selfs die verpleegsters het gesê dit is dringend oor die gevaar van seksueel oordraagbare infeksies.”
Die ouers beskuldig die skool van nalatigheid
Die ouers beweer die onderwyseres het geweet van die voorval, maar wou die saak hanteer asof dit net boeliegedrag was.
“Sy wou hê ons moet die volgende dag met die ander kind en sy ouer vergader, asof dit net ’n bakleiery was. Geen dringendheid, geen empatie nie, hulle het dit hanteer asof niks erns gebeur het nie,” sê die pa.
Die gesin beweer dat die skoolhoof eers die volgende middag tyd gemaak het om hulle te sien, en net belowe het om die saak te ondersoek.
Departement van Onderwys het reageer en gesê….
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het bevestig dat daar ’n voorval aangemeld is. Woordvoerder Bronagh Hammond sê die skool het volgens hulle die nodige protokolle gevolg:
“Die skool het bevestig dat getuienis en sekuriteitsbeeldmateriaal nie die klagtes staaf nie. SAPD ondersoek tans die saak. Bystand en berading sal aan die betrokke leerder voorsien word.”
Die gesin gaan hierdie week met die polisie en ’n maatskaplike werker vergader.

