“Politieke heksejag” of ernstige regsverydeling?
CCN Redakteur – George April
Pinetown:- Die borgaansoek van National Coloured Congress (NCC)-leier en MP Fadiel Adams, het Woensdag (13 Mei 2026) in die Pinetown Landdroshof ’n dramatiese wending geneem, toe dit tot Vrydag 15 Mei uitgestel is.
Adams bly agter tralies by ’n geheim gehoue plek terwyl die Staat sterk teen sy vrylating gekant bly.
Adams, wat verlede week in Kaapstad deur die SAPS se Political Killings Task Team (PKTT) gearresteer is, staan tereg op drie aanklagte van bedrog en twee aanklagte van regsverydeling.
Die bewerings draai om sy beweerde inmenging in die ondersoek na die 2017-moord op voormalige ANC Youth League-leier, Sindiso Magaqa. Hy sou homself as amptelike parlementêre besoeker voorgedoen het om beskuldigdes, waaronder ’n veroordeelde “hitman”, in die Westville-gevangenis te besoek, verklarings af te neem en selfs ’n selfoon in te smokkel.
Regspan-wisseling
In ’n onverwagte skuif het Adams se Kaapse regspan, onder leiding van prokureur Bruce Hendricks, weens logistieke redes teruggetree. Afgetrede staatsprokureur Yuri Gangai het nou die leisels oorgeneem vir die borgaansoek.
Die verdediging voer aan dat Adams binne sy parlementêre oorsigrol opgetree het, en dat die saak ’n politieke teistering is.
Die Staat het egter in die hof getuienis aangebied van Adams se vorige oortredings van tronkreëls en beweer hy het die regsproses herhaaldelik verydel.
Hulle beskou hom as ’n risiko vir die ondersoek, getuies en die administrasie van geregtigheid.
NCC: “Dit is intimidasie”
Die NCC en Adams se ondersteuners noem die arrestasie en vervolging ’n “witch hunt” omdat Adams korrupsie binne die SAPS, veral Crime Intelligence, blootgelê het. Hulle beklemtoon dat hy bereid is om enige borgvoorwaardes na te kom en dat sy grondwetlike regte as MP geskend word.
Wat nou?
Die uitspraak oor borgtog word Vrydag verwag. As Adams borg geweier word en later skuldig bevind word aan die ernstige aanklagte, kan dit verreikende gevolge hê vir sy setel in die Parlement en die toekoms van die relatief nuwe NCC.
Die saak bly hoogs emosioneel en word landwyd dopgehou, veral in die Kleurling-gemeenskappe van die Wes-Kaap waar Adams ’n sterk ondersteuningsbasis het.
Is dit geregtigheid wat sy gang gaan, of word ’n stem wat polisie -misstande uitdaag, stilgemaak?
CCN hou jou op hoogte van die Vrydag-uitspraak.

