Voormalige burgemeester sluit by ontwikkelaar aan
CCN Verslaggewer – George April
Hopefield:- Die voorgenome multimiljoen-rand sonkrag- en battery-stoorprojek naby Hopefield bly ‘n bron van groot verdeeldheid.
Nuwe kommer het ontstaan oor die vinnige oorgang van voormalige Saldanha Bay Munisipaliteit (SBM) Executive Mayor, Alderman André Truter, na Phelan Green Energy / Cullisol Holdings. Truter het op 31 Januarie 2026 as burgemeester bedank. Volgens berigte en sy openbare profiele het hy die volgende dag (1 Februarie 2026) by Phelan Green Energy begin as Head of Community Integration and Security.
Vrae wat steeds daagliks in gesprekke opduik wanneer die solar-besigheid bespreek word:
– Was daar enige betrokkenheid, onderhandelinge of kennis van die projek terwyl Truter nog burgemeester was en die munisipaliteit toesig moes hou oor goedkeuringsprosesse?
– Hoe onafhanklik was die munisipaliteit se hantering van die projek as die toekomstige werknemer van die ontwikkelaar op daardie stadium die uitvoerende burgemeester was?
– Dra die DA kennis van die tydsberekening en die aard van die nuwe pos? Het hulle enige ondersoek of verklaring hieroor uitgereik?
Hierdie beweerde vinnige oorgang het bygedra tot dieper wantroue onder baie inwoners.
Nuwe kommer by gisteraand se vergadering
By die openbare vergadering gisteraand in die NG Kerksaal het inwoners weer gevra na duidelike antwoorde. Een belangrike vraag wat na vore gekom het, handel oor die Soutrivier wat deur Hopefield loop en by die Bergrivier aansluit, wat uiteindelik by Laaiplek in die Atlantiese Oseaan mond.
Battery-lek-risiko’s vir die rivierstelsel
Groot Battery Energy Storage Systems (BESS) gebruik hoofsaaklik lithium-ion-tegnologie. As daar ‘n lekkasie sou voorkom (veral tydens ‘n brand of termiese runaway), kan elektroliet (wat organiese oplosmiddels en sout soos LiPF₆ bevat) in die grond of water beland.
Moontlike gevare:
-Vir water en visse: Die chemikalieë kan giftig wees vir akwatiese lewe. Dit kan lei tot besoedeling wat visse en ander waterdiere affekteer, afhangend van die volume, verdunning en hoe vinnig dit in die rivier beland. Brandbluswater kan ook besoedelde afloopwater dra wat verder in die rivierstelsel versprei.
– Vir mense: Indirekte risiko’s deur besoedelde drinkwater, visvang of landbou-irrigasie laer af in die Bergrivier. Langtermyn-effekte kan grond- en grondwater besoedel.
Ontwikkelaars moet in hul Environmental Impact Assessment (EIA) bewys dat hulle voldoende maatreëls het soos containment-sisteme vir brandwater, buffer-sones van riviere, en noodplanne om sulke lekkasies te voorkom of te beperk. Baie studies wys dat met goeie ontwerp en regulasies die risiko laag gehou kan word, maar in ‘n sensitiewe area soos Hopefield eis inwoners onafhanklike versekering.
Gemeenskapsreaksie
Inwoners is nie noodwendig teen groen energie of werkskepping nie, maar eis duidelike antwoorde en waarborge oor:
-Watersekuriteit oor 10–20 jaar in ‘n droë gebied.
– Veiligheidsmaatreëls vir battery-stoorstelsels so naby die dorp.
– Konkrete waarborge vir plaaslike werksgeleenthede buite die konstruksiefase (2–3 jaar).
Gemeenskapsleiers word gekritiseer omdat hulle net die werkskepping-kant beklemtoon sonder om risiko’s voldoende aan te spreek.
Ontwikkelaars en Munisipaliteit se kant
Phelan Green Energy het vroeër gesê hulle sal nie munisipale drinkwater gebruik nie en fokus op alternatiewe bronne. Die maatskappy en die munisipaliteit moet nou ekstra deursigtigheid bewys en alle moontlike belangebotsings openlik aanspreek.
CCN nooi André Truter, Phelan Green Energy, die DA en die huidige Saldanha Bay Munisipaliteit uit om op hierdie vrae te reageer.
Die Hopefield-projek is deel van ‘n groter groen waterstof- en e-brandstof-inisiatief. Terwyl ekonomiese groei erken word, bly voorsorg en volledige deursigtigheid noodsaaklik.

